Nuus!

(Vorige nuusitems is in die argief te vinde)

Twee natuurhorings bygevoeg tot Deelfontein se instrumentversameling

In September 2018 is twee nuwe natuurhorings aangeskaf vir gebruik tydens die kursus in Vroeë Musiek wat deur die barokvioliste Antoinette Lohmann en die Spaanse natuurhoringspeelster Mariantonia Riezu aangebied is. Die horings is geskik vir gebruik in beide barok- en klassieke orkeste en brei die keuse van orkeswerke wat in Suid-Afrika op historiese instrumente uitgevoer kan word grootliks uit. Twee plaaslike horingspelers is tydens die kursus in die speel van natuurhoring opgelei. 

 
 

 

Oorsig oor hierdie webwerf

(Vir algemene inligting oor Deelfontein en die Koepel, kyk verder ondertoe)

Kunstesentrum

  • Die Koepel Kunstesentrum bied konsertprojekte, meestersklasse en opleidings- en vakansiekursusse in musiek en die kunste vir professionele en amateurmusici, studente en liefhebbers. Die jaarprogram, aktiwiteite en aktuele kursusse verskyn op hierdie webwerf.

  • Die Seminaarfasiliteite is beskikbaar vir benutting deur buite-instansies wat hier konferensies, seminare, funksies, of byeenkomste wil aanbied.

  • Die Forum vir Vroeë Musiek in Afrika is 'n vereniging ter bevordering van die uitvoering van nie-hedendaagse musiek op oorspronklike instrumente en volgens historiese uitvoeringspraktyk, wat 'n swaartepunt van die kunstesentrum se program vorm.

Akkommodasie op Deelfontein

Vakansieverblyf op die afgeleë plaas Deelfontein in die hart van die Koepel. Ervaar stilte en rustigheid vêr van die stadgedruis. Akkommodasiemoontlikhede sluit in

  • Deelfonteinhof (in aanbou)

  • Oom Kosie se Plaashuis (Gastehuis, 11 beddens)

  • Oom Hannes se Plaashuis (Gastehuis, 16 beddens)

  • Wegbreekrondawel vir 2 (Dubbelbed, slegs 2 persone)

  • Deelfontein Boskamp (Hutte, 16 beddens)

Aktiwiteite

Geniet 'n verskeidenheid van opwindende buitelug-aktiwite:

  • Swem in die 15m swembad

  • Stap op 'n groot verskeidenheid voetslaanpaaie of op die Meteoriet-Staproete

  • Fietsry op die bergfietsroete met 'n verskeidenheid van maklike tot uiters tegniese roetes

  • Sterrekyk in die toegeruste sterrewag

  • Voëlkyk. Die vele habitatte op die plaas waarborg 'n groot verskeidenheid voëlspesies

Deelfontein Sterrewag

Toegerus met 'n 12" Schmidt-Cassegrain-teleskoop en verskeie ander teleskope, bied die sterrewag op Deelfontein geleentheid vir sterrekyk en astronomiese navorsing. Voorafbespreking (minstens 30 dae) van die fasiliteite en sterrekyk-uitstappies is noodsaaklik, en gebruik van die teleskope is slegs onder toesig of na opleiding moontlik.

Deelfontein Veteraanmuseum

Die versameling van veteraanmotors op Deelfontein sluit 'n Pontiac (1931), De Soto Airflow (1934), Mercedes Benz (1959), Jeep Wagoneer (1964), Ford Thames Trader (1961) en Fordson Dexta (1961) in. Die museumgebou is tans in aanbou.

Boerdery-aktiwiteite

Deelfontein beslaan 170 ha bosveld in die hart van die Vredefort Koepel. Die boerdery-aktiwiteite sluit kuddes van inheemse veldbokke, Damaraskape, en Ngunibeeste, sowel as 'n byeboerdery in. Diere is van tyd tot tyd beskikbaar, en rou heuning word te koop aangebied.

 

 

 Die plaas Deelfontein

Deelfontein, 170ha bergland bedek met ongerepte bosveld, is geleë in die Vredefort Koepel, 'n eenmalige geologiese formasie omtrent 120km suidwes van Johannesburg aan beide kante van die Vaalrivier.

Die plaas lê aan die suidekant van die rivier tussen twee van die kenmerkende konsentriese rante van die Koepel. Die hoogte bo seevlak wissel tussen ongeveer 1400 m in die vallei en 1600 m bo-op die rante, en die klimaat is gematigd kontinentaal.

In die somer is dit nat en warm maar nooit drukkend of onaangenaam nie; in die winter is dit droog en sonnig, met groot temperatuurwisselings tussen dag en nag, wanneer die temperatuur dikwels tot onder vriespunt daal.

Vroeër is mielies en vrugte in die vrugbare valleigrond verbou, maar sedert etlike jare is die ou lande weer aan die regenerasieprosesse van die natuur oorgelaat. Op die klipperige rante gedy die tipiese boomveld-plantegroei van die Koepel, waarin die Acacia caffra oorheers.

Verskeie wilde diere kom hier natuurlik voor: Benewens die klein soogdiere soos muskejaatkatte, hase en ystervarke, is verskeie boksoorte hier tuis, sowel as blouape, rooikatte en luiperds.

Weens die beperkte landboupotensiaal van die gebied is die natuur hier grootliks ongeskonde. Die meeste eienaars het 'n positiewe instelling teenoor natuurbewaring en die grondbenutting neig duidelik na eko-toerisme: Wild- en jagplase, buitelewe-aktiwiteite soos stap, roei en perdry, en die avontuurbedryf.

Ook op Deelfontein sal die versteuring van die natuur mettertyd verdwyn, en word omgewingsvriendelike aktiwiteite soos stap en fietsry aangebied.

Die natuurskoon, stilte en afgeleë ligging het egter meer as net toerismepotensiaal: Dit bied ideale omstandighede vir effektiewe en gekonsentreerde leerervarings, ver van die geraas en oorstimulering van die stad. Hierdie potensiaal word deur die kursusse van die Koepel Kunstesentrum op Deelfontein verwesenlik. 

 

 

Die Vredefort Koepel

Die naam Vredefort verwys na die dorp Vredefort, wat in 1876 gestig is en na die vrede na die eerste Boereoorlog verwys. Op 'n satelietfoto skyn die term Koepel sinvol te wees: Die geboe konsentriese bergreekse hang soos 'n koepel oor Vredefort en die omliggende vlakte. Die naam is egter 'n geologies term wat na die koepelvormige geologiese struktuur onder die aardoppervlak verwys.

Die oorsaak van hierdie formasie is 'n botsing tussen 'n asteroid van ongeveer 10km deursnee met die aarde, wat ongeveer 2,02 miljard jaar gelede plaasgevind het (2 020 miljoen jaar -- die ouderdom van die aarde is ongeveer 4 000 miljoen jaar!). Deur die onvoorstelbare energie wat deur die impak ontketen is, het 'n krater met 'n deursnee van ongeveer 250 tot 300 km en 'n terugslagkegel van ongeveer 90 km deursnee ontstaan. Gesmolte gesteente uit dieptes van tot 17 km is na die oppervlak gebring en het die vroeëre horisontale sedimentere lae omgedop tot verby die vertikale, sodat ons vandag in die rante 'n hoek van 30 grade verby die vertikale kan waarneem.

Na die gedurige erosieprosesse van die afgelope 2 200 miljoen jaar is van die geweldige berg wat na die impak hierdie landskap bedek het, niks meer oor nie. Die amper vertikale gesteentelae, dieselfde wat in die omgewing van Johannesburg amper 2 km onder die oppervlak lê, het egter te voorskyn gekom en vorm die kenmerkende bergreekse van die Koepel.

Op die boonste satellietfoto is die halfmaanvormige bergreekse van die Koepel duidelik sigbaar. Die tweede foto wys die samehang tussen die goudmyne, waarvan die hope as wit spikkels sigbaar is, en die impak by Vredefort, wat met 'n V aangedui is.

Verdere inligting oor die Vredefort Koepel is op die webwerwe www.geo.tu-freiberg.de en op die werf van die suidafrikaanse radio-observatorium www.hartrao.ac.za te vind. 

Die Koepel Meteoriet-park: natuurbewaring in die Koepel

Tot op ongeveer 200 ha na, is die totale oppervlak van die Vredefort Koepel in privaatbesit. Die inwoners woon in sommige gevalle reeds sedert vele geslagte op hulle plase. In die afgelope dekades het vele vermoende sakemanne, medici, regslui ens. weens die ongerepte natuur hier naweekplase aangeskaf. In die afgelope jare is die gebied deur die toerismeindustrie ontdek: Dit was te wagte, aangesien die natuurlike rykdomme van die omgewing in so 'n kort reikafstand van Johannesburg dit noodwendig as ontspanningsgebied vir die miljoene inwoners van suidafrika se grootste verstedelikte ruimte bepaal. Sedertdien dryf 'n derde generasie van landkopers, die ontwikkelaars, wat die grond vir toeristiese redes aanskaf, die grondpryse na bo. Omgekeerd dwing natuurlik die hoë pryse die kopers om vir goeie inkomste uit hulle beleggings te sorg. Dit verhoog die druk op die kommersiële ontwikkeling van die gebied.

Omdat hulle hierdie ontwikkeling voorsien het, het 'n groepie van vêrsiende grondeienaars met 'n liefde vir natuurbewaring reeds in die laat negentigerjare 'n natuurbewaringsvereniging gestig en, in samewerking met die departemente van Natuurbewaring, 'n aansoek aan UNESCO gerig om die gebied as wereldnatuurerfenisgebied te lys. Hierdie moeite is in Junie 2005 beloon, toe UNESCO tydens sy vergadering in Durban die Vredefort Koepel as die tot nou toe nog jongste Wereldnatuurerfenisgebied van Suidafrika verklaar het.

Sedertdien is talryke studies onderneem ter voorbereiding van die opstelling van 'n bestuursplan vir die gebied. Die feit dat die Koepel in twee verskillende provinsies lê, blyk 'n groot struikelblok te wees, aangesien die twee provinsiale regerings swak kommunikeer of die gebied as speelbal vir eie belange gebruik. In April 2008 het 'n afvaardiging van UNESCO 'n tweede besoek afgelê om die vordering vas te stel. Daar is goeie hoop dat die bestuursliggaam en finale bestuursplan binnekort in plek sal wees.

Die eertydse bewaringsliggaam is sedertdien in 'n artikel 21 maatskappy sonder winsbejag omskep, en heet die Koepel Meteoriet-park. Saammet twee grondeienaarsverenigings onderhandel die vereniging met die regering om die gebied te bestuur en te bewaar.